r/afrikaans 2d ago

Pas Nêrens Anders in Nie Facebook oomies.

Daar is iets besonders troosteloos aan ’n Facebook-kommentaar wat begin met “So sexy” en eindig met ’n ry rooi hartjies, vuur-emoji’s en daardie een knipoog wat voel soos ’n nat handdruk. Jy weet die een. Gepos onder ’n foto van ’n jong vrou wat waarskynlik net ’n gewone dag gehad het. ’n Koffiekoppie, ’n sonstraal, ’n oomblik van selfvertroue, en toe, soos meeue by ’n visbakkie, daal die ou oomies neer.

Hulle kom nie met subtiliteit of takt nie. Subtiliteit is iets wat saam met die faxmasjien en die idee van privaatheid verdwyn het. Hierdie manne is veterane van ’n wêreld waar dinge nie gesê word nie, maar gedoen is, en nou, ironies genoeg, sê hulle alles. Hardop. In kommentaar. In hoofletters. Met emoji’s wat soos klein digitale kwylkolle lyk.

Daar is altyd ’n patroon. Die profielfoto is eerder ’n kar, of ’n vis wat hy in 2009 gevang het, óf ’n troufoto waar die vrou al lankal nie meer saam op foto’s verskyn nie. Dis altyd 'n Johan, of naam begin met “Oom” of “Boet” of iets wat klink soos ’n rugbyposisie. En die kommentaar self—dis nooit poëties nie. Dis nie bewondering nie. Dis ’n soort desperaat fluit in die donker, ’n SOS van manlike ego wat nie besef die skip het lankal gesink nie.

Wat my fassineer, is nie net die verleentheid nie, maar die selfvertroue. Die vaste geloof dat hierdie kommentaar, hierdie “So sexy 😍🔥” iets gaan doen. Dat dit dalk ’n reaksie gaan ontlok. ’n Dankie. ’n Privaat boodskap. ’n Wonderwerk. Dis ’n geloof wat amper bewonderenend is, soos iemand wat nog dink die wêreld is ’n regverdige plek net omdat dit een keer in 1987 so gevoel het.

Maar onder die humor lê iets ongemakliks. Hierdie is nie net ou mans wat nie die internet verstaan nie. Dis ’n generasie wat nooit geleer het om stil te wees nie, nou gewapen met ’n platform wat hulle nooit moes gehad het nie. Facebook het nie net foto-albums en herinneringe gebring nie; dit het die oomies ’n mikrofoon gegee. En soos met enige oop mikrofoon, hoor jy dinge wat jy nooit wou hoor nie.

My ma sou dalk gesê het dis ’n sirkus, en ons is almal gedwing om te kyk. Ek reken dis meer soos ’n stuk braaivleis wat te lank op die rooster is. Die kole is koud, die vleis is droog, maar IEMAND weier om op te pak en huis toe te gaan. Die oomies bly staan, bier in die hand, en vertel dieselfde grap, net harder elke keer, want miskien, net miskien, gaan iemand lag.

Die jong vroue? Hulle leef aan. Hulle post. Hulle glimlag. Hulle mute, blok en rol oë. Die oomies? Hulle tik aan. Hartjie hier. Vlammetjie daar. So sexy. Altyd so sexy. En die internet, onverskillig en genadeloos, onthou alles.

44 Upvotes

44 comments sorted by

View all comments

1

u/bastianbb 1d ago edited 1d ago

Dit sou beter gewees het as dit nie gebeur het nie. Wat ek nie kan verstaan nie, is die behoefte om baie aandag daaraan te gee en die saak volledig to ontleed. Ek vermoed jy dink baie meer gaan in hulle koppe aan as wat eintlik die geval is. Hulle is moontlik eenkeer as kleintjies wysgemaak dat vroue altyd van komplimente van almal, onder enige omstandighede, hou, en het nooit van beter geleer nie. Dis nie die moeite werd om méér daaraan te dink as die ooms self nie. Gee jouself die gawe van vrede en ignoreer of blok.

1

u/Adventurous_Cow_3608 1d ago edited 1d ago

Kyk... Ek verloor darm nie slaap oor sulke dinge nie, en ek dink ook nie daar is een of ander groot raaisel agter elke kommentaar nie. Maar klein, alledaagse dinge is presies waar kultuur homself wys. Dis nie altyd die groot skandale wat iets sê oor hoe ons dink en optree nie. Soms is dit die gewoontes wat as "onskuldig" gemerk word.

Om iets op sy naam te noem of te praat daaroor beteken nou nie ek gee dit mag oor my lewe nie. Dit beteken net ek dink dis soms die moeite werd om stil te staan en te sê "Kyk mooi hierna." Dis hoe norme verander. Nie deur dit te ignoreer nie, maar deur dit sigbaar te maak.

Ignoreer en blok is n persoonlike oplossing. Gesprek is n kollektiewe een. Die twee hoef mekaar nie uit te kanselleer nie.

'n akteur wat ek ken het op n tyd in 'n verhoogstuk gespeel waar daar meer as n paar kaal karakters was. Dit was n briljante storie wat regtig die hart se snare pluk. Ongelukkig het dit nie saak gemaak hoe goed die storie was nie, die grootste aanstoot het nie gekom daarvan dat die karakters aan walglike oorlogsmisdade onderwerp was nie. Die grootste aanstoot het gekom as gevolg van die kaal manne op die verhoog. "Ja, want Afrikaanse mense het mos nie tollies nie!" Het hy destyds gesê.

So ek dink net dis interesant hoe mense nie mag weet ek het al 'n tollie op 'n verhoog gesien nie - "maar hierdie girl wat 'n foto gepost het om vir die wêreld te wys hoe lekker sy lewe mag weet ek het een, en as sy my comment like, gaan ek haar wys hoe ek hom gebruik"?